Korea FAQ (Afrikaans)

*Disclaimer: Ek weier om engelse woorde in italics te skryf. Dis laat en eks te lui, so deal met dit. Dankie vir u samewerking.


Ek kry gereeld mense wat nuuskierig aan my deur klop met die hoop dat ek al hul Korea raaisels vir hul sal kan oplos. Nou, kom in my vriend. Sit, ek maak tee. Laat ek jou vertel hoe sake die kant staan. 

Toe jy op jou werk se rekenaar of die aand voor jou eindeksamen “life as an English Teacher in Korea” geGoogle het, het jy eindelose artikels en blogs gevind, maar jy het steeds so baie vrae! Kom ek sê sommer nou vir jou. Baie van hierdie artikels word deur die agente self geskryf, so jy hoor net wat hulle wil hê jy moet. Baie ander is so lank terug geskryf dat dit al irrelevant is en baie is net eenvoudig nie heeltemal eerlik of selfs van toepassing op die algemene Suid-Afrikaner wat Korea oorweeg nie. Nou waar vind jy die waarheid? 


Hier is `n paar van die vrae wat ek die meeste kry. Ek gaan nou probeer om elkeen so reguit as moontlik te beantwoord.  Sonder enige frille en nice filters wat die wintervetjies wegsteek.

Wat het ek nodig om te kan Engels gee in Korea?

`n Graad. Dis so maklik soos dit. Of jy nou `n onderwysgraad of `n meesters in slangevang het, dit maak nie in die minste saak nie.

Het ek TEFL nodig?

Nee, moenie jou geld mors nie. Dit mag jou dalk help om uit te staan bo `n ander kandidaat sonder TEFL, maar jy sal beslis `n werk kan kry daarsonder. Ek het nie TEFL nie.

Sal ek kan geld spaar en hoeveel?

JA!!! As jy hou van Ramen noodles en verby Artbox (die upgrade van Typo) kan loop sonder om die plek leeg te koop, dan behoort jy omtrent die helfte van jou salaris te kan spaar. Ek leef baie gemaklik en kan elke maand basies dit spaar. Hoeveel die helfte van jou salaris gaan wees, hang natuurlik af van hoeveel jy sal verdien. Die wisselkoers verander daagliks, maar op die oomblik is die gemiddelde salaris in rand so R25 000. Daarvan sal jy redelik maklik so R12 000 kan spaar.

`n Bietjie raad, moenie daardie geld huistoe stuur nie. Wag tot die einde van jou kontrak en stuur dan alles gelyk. Die rand styg en val soos `n gelapte kite. Wag eerder tot jy hom lekker laag vang. Die rand was al so laag teenoor die rand dat ek een maand R35 000 verdien het. Bygesê, die minister van finansies word ook nou nie elke maand gefire nie.

Hoe lank is die kontrakte?

`n Doodgewone kontrak is 12 maande.

Wat is die ‘severance pay’?

Aan die einde van jou 12 maande kry jy `n volle maand se salaris as bonus. Moet egter nie daarop staatmaak nie. Alhoewel dit die norm is dat almal hulle ‘severance pay’ kry, kry mens maar jou skelm skoolhoofde ook die kant wat jou uit jou ‘severance’ uit boelie. Ek praat uit ondervinding hier. Ek het my hele ‘severance’ verloor a.g.v `n vuilspelery onder `n paar uitsonderlike skelm howe. Maar moenie dat my geval jou afskrik nie, ek is by verre die uitsondering. Wees net gewaarsku.

Hoeveel vakansie kry ek?

20 dae. `n Week in winter en `n week in somer. Lees my artikel oor vakansies in Korea hier.

Kan ek toer?

Definitief! Met die kort en min vakansies gaan jy dit nie gereeld kan doen nie, maar wanneer jy die slag vakansie hou, kan jy dit nogal ordentlik doen. Hier is baie lekker plekke naby aan Korea wat perfek is vir so `n week se weggaan. Jy het ook nie `n visa nodig vir meeste Oosterse lande nie. Ek was die jaar Fillipyne toe vir die somer vakansie en dit was fantasties!!! Elke sekond van daardie week op die eiland, Boracay,  was elke dag se werk werd.

20160803_123458

Is daar baie ‘foreigners’?

JA! Hier is hordes! Veral Suid-Afrikaners! Dit hang natuurlik alles af van waar jy bly. As jy nou kies om in die middel van nêrens te loop skoolgee dan moet jy nou nie vir my kom vra “Dinie waar is almal?” nie. Die maatjies is almal by die partytjie, maar jy sit by die verkeerde springkasteel. In die groot stede is daar baie, baie engelse onderwysers. By my skool is ons drie Suid-Afrikaanse meisies. By elke skool is daar gemiddeld twee of selfs meer ‘foreigners’. Meeste kom van Suid-Afrika, Amerika of Kanada af.

Hoe is dit kultuurskok?

Dis `n moeilike vraag om te beantwoord. Dis iets wat elkeen anders beleef. Die Koreaanse kultuur is baie ver verwyderd van waaraan ons in SA gewoond is. Hulle het `n paar vreemde gewoontes om aan gewoond te raak, soos om in die strate te spoeg of om oopmond te kou in geselskap. Daar gaan tien teen een `n paar goed wees wat jou dalk gaan frustreer of irriteer, maar daar sal ook baie goed wees om te waardeer. Die Koreane is verskriklik hardwerkend en oor die algemeen baie vriendelik, behulpsaam en eerlik.

Meeste mense is vir die eerste twee maande in so `n ‘honeymoon phase’ dat niks hulle pla nie. Die ding wat ek sou sê moeilik is aan die begin is dat niemand jou verstaan nie en met niemand bedoel ek L-E-T-T-E-R-L-I-K NIEMAND!!! Dis die ironie van ons bestaan die kant. Ons gee heeldag Engels, maar na-ure verstaan niemand hello of goodbye nie. Okay, ek oordryf. Hulle verstaan hello en goodbye, maar dis waar dit stop. Na die eerste maand of twee leer jy darem ‘survival Korean’ aan en dinge gaan makliker. Mens pas beslis aan. As jy hou van `n uitdaging, gaan jy dit baie geniet. Is dit nie juis deel van die rede hoekom jy wil kom nie? Om iets anders te beleef. Moenie Suid-Afrika die kant kom soek en `n diklip gooi as jy nie braaivleis kan bestel nie. Jys in Korea, so tel daai chopsticks op en proe die noodles.

Is dit veilig?

Jaaaaaaa!!! Die veiligheid is een van die groot redes hoekom so baie mense nog `n jaar of drie aanbly (of selfs permanent bly!). Dit is een van die top 5 veiligste lande in die wêreld en laat ek jou nou maar vertel, dis `n DROOM. Ek stap in die middel van die nag stoksielalleen huistoe sonder `n bang haar op my lyf. Mense is nie bang om hul selfone oop en bloot op die tafel te los by `n koffie winkel om gou badkamer toe te glip nie. Die samelewing is gebasseer op vertroue op mekaar. Miskien ook vrees vir die owerhede, maar kom ons fokus nou maar op die mooi hier, so vertroue 😉 Ek het al `n bus bestuurder gehad wat spesiaal opgestaan by `n robot om my kleingeld (`n paar sent) vir my te bring. Dis so mooi.

Wat van dokters?

Van al die belangrike goed sal jy êrens iemand vind wat so bietjie Engels kan praat. Ek het `n Engelse dokter, tandarts en apteker wat redelike goeie Engels kan praat. Jy moet maar net rondvra. Dis nie moeilik om te vind nie. Hulle is gewoonlik baie bekend onder die uitlanders.

Is die kinders stout?

Ja. Hulle is kinders. Kinders is stout. Vergeet van wat jy in Asian flieks gesien het. Oosterse kinders is net so stout soos enige anders kinders. Dit hang ook grootliks af van hoe groot die klasse is. Ek het al klasse gehad van tussen 2-8 kinders wat stroopsoet was en nie `n voet verkeerd gesit het nie. Dan het ek ook al groter klasse gehad wat nogal `n uitdaging kan wees. Die dissipline is nie altyd great nie, want dis iets waarvoor die ouers nie tyd het by die huis nie. Meeste ouers werk laat of is gereeld weg vir werk, so dissipline is nie altyd hoog op die prioriteitslysie wanneer pappa vir `n naweek huistoe kom nie. Dis maar eintlik jou werk bedags, maar dis regtig ook nie so erg nie. Weereens, dit sal alles afhang van die grote van jou klasse en jou skool. By kleiner skole is die klasse altyd stiller.

Dit gesê, hulle mag dalk soms stout wees, maar al die liefde en oulike oomblikke maak op vir elke wat jy lus het om saggies in Afrikaans te vloek.

13516689_10208554875021324_8601630150455544612_n

Is die winter erg?

Ja. Dis vrek koud. As jy dink jy het warm aangetrek toe jy vir jou ouma in Ceres gaan kuier het, dan het jy nog niks gesien nie. Dit raak so koud hier dat die biesies letterlik bewe. Hierdie Januarie was dit een aand -18’C. Dinie dink ook toe mos nou juis daardie aand is die ideale geleentheid om bietjie uit te gaan en `n nuwe deel van die stad te gaan verken. Ek het daai aand so koud gekry, ek sou die hele Wellington kon afkoel.

12592771_10153595521764681_8678030674583994407_n

Hoe werk die verblyf?

Jy kry `n bachelors flat. Party flats is massief en voel soos huise teenoor ander en party is redelik klein. Dit hang maar af van waar jou skool jou plaas. Jy kies nie jou plek self nie. Party skole sal vir jou `n verblyf toelaag gee, maar dis regtig uitsonderlik. My plek is redelik klein, maar dis heeeeerlik. Ek het `n badkamer, kombuis, waskamer en slaapkamer. Ek sou sê dis beslis groter as die gemiddelde bachelors flats wat ek al op Stellenbosch se kampus gesien het.

Wat kos dit om hier uit te kom?

Jy gaan `n paar rand moet uitgee, maar sien dit as `n belegging. Dit mag dalk nou vir jou na baie klink, maar glo my, dis die moeite werd. Reken goed soos jou vlugkaartjie, warm klere as jy in winter kom, posgelde om jou dokumente te pos, jou ‘police clearance’ en jou agent se fooi in. Al hierdie dinge sal verskil van geval tot geval. Ek het in winter gekom, so ek het `n draai by Cape Union Mart gemaak wat my skuld by my ma se bietjie opgejaag het. Ek het ook op oujaarsaand gevlieg, so my kaartjie was buitensporig duur. My kostes was hier rondom R20 000. Weereens, myne was duurder as gewoonlik.

Jy kry die helfte van jou ‘one way’ vlugkaartjie terug met jou eerste salaris en die ander helfte met jou heel laaste salaris.

Hoeveel het ek nodig vir die eerste maand?

Vergeet van wat enige agent of vriend of Jan Rap vir jou sê, moenie `n sent minder as R10 000 bring nie. Verkieslik meer. My agent het vir my gesê R5000 sal oorgenoeg wees. Ek moes by vriende en kollegas leen om deur die eerste maand te kom. In jou eerste maand mag jy dalk ekstra uitgawes hê bv. om goed vir jou plek aan te skaf of om ekstra warm klere te koop of dalk `n internet modum of sulke goed. Dit hang ook baie af van wat alles in jou plek is wanneer jy daar aan kom. Hoop jys gelukkig en die vorige persoon los vir jou baie goed oor. As dit nie was dat die meisie voor my skoonmaakmiddels en breekgoed agtergelaat het nie, sou dit my nog geld leen gekos het.

Wat gebeur as ek na drie maande wil huistoe kom?

As jy hier kom en jy besluit die land van kimchi en rys is nie vir jou nie, dan sit jy met `n effense probleempie op hande. Dis nie onmoontlik om terug te draai huistoe nie. Ek het al van `n geval of twee gehoor waar mense nie gelukkig was nie en bedank het. Wat dan gebeur is dat jy jou ander helfte van jou vlug kaartjie verloor, sowel as jou ‘severance pay’. As ek dit nou nie mis het nie, dan moet jy `n volle maand kennis gee en, indien jy voor jou 6 maande merk besluit om te bedank, jou agent se fooi ook vir die skool terug betaal. Dis nou die fooi wat die skool jou agent betaal het om jou daar te kry en dis nogal nie loslekkers-koop geld nie. So, jy verloor `n paar rand in die situasie, maar dis nie onmoontlik nie. Niemand kan jou dwing om te bly nie. As jy wil gaan, moet jy gaan. Wees net bewus van die implikasies.

Wat is die tydsverskil en is dit erg om mee te deal?

Dis 7ure en, nee, dis nie so erg nie. Aan die begin kan dit nogal `n uitdaging wees, maar mens leer gou hoe om maniere rondom dit te vind. Ek hou daarvan om skype sessies te reel of whatsapp voice notes te stuur. Voice notes is nogal die antwoord op al my tydsverskil probleme. Ek los vir jou `n voicenote en jy reply wanneer okal jy wakker is.

Watter stad is die beste om te werk?

Dit al alles afhang van waarvoor jy soek. As jy soveel as moontlik van Korea wil sien, sou ek sê Daejeon, waar ek bly, is dit beste. Daejeon is `n baie lekker stad met `n lekker groot, gesellige ‘foreigner community’. Dis in die middel van Korea, so dis maklik om vir `n naweek gou die KTX te vang Seoul of Busan toe. Dis nie so groot soos Seoul of Busan nie, maar dis lekker. Dis nie `n vertrapping soos Seoul nie.

Seoul is die hoofstad. Dis fantasties, maar daar is verskriklik baie mense en, ironies genoeg, omdat dit so `n groot stad is kan dit baie maklik eensaam raak. Jy sit ure om op treine en busse. Tog bly dit `n wonderlike stad. Persoonlik is ek mal oor Seoul, maar na `n naweek in Seoul is ek weer baie dankbaar vir Daejeon.

Busan is by die see. Dis die tweede grootste stad. Dis net so `n wonderlike plek. Weer heeltemal anders as Seoul. Baie soos `n Koreaanse Kaapstad. Die enigste sleg van Busan is dat dit ver is.

Mense wat in Seoul of Busan bly, toer oor die algemeen nie so baie rond in Korea soos die wat in Daejeon bly nie. Dis net so maklik om ander stede te sien of op groeptoere te gaan as jy in Daejeon bly.

Waar okal jy bly, maak net seker dat jy by `n subway stop bly. Dis nie die einde van die wêreld as jy nie naby een is nie, dit sal jou lewe net aansienlik makliker maak hoe nader jy aan een is. Subways is wonderlik!!!! In fact, die publieke vervoer oor die algemeen is FANTASTIES hier in Korea! Dis goedkoop, maklik en veilig.

Watter aktiwiteite is daar om aan deel te neem?

Natuuuuurlik! Hier is soveel verskillende groepe en klubs, jy mag dalk jou innerlike drawwer of seepkerwer ontdek. Ek is deel van `n onafhanklike teater geselskap en `n skrywersgroep. As jy in tale belangstel is Korea beslis die plek om te wees. Hier is so baie groepe wat gereeld ontmoet om mense van verskillende tale bymekaar uit te bring. Wat sport aanbetref het ek al gehoor van roei, veertjie, sokker, hardloop, taekwondo, dans, zumba, pilates, yoga en nog soooooveel ander! Behalwe die groepe, is daar ook baie toere waarop jy kan gaan om interessante plekke te besoek naweke.

Is dit so lekker soos wat dit lyk op Facebook en Instagram?

Baie mense sien die foto’s op Facebook waar ons op vakansie is en dan dink hulle ons lê net heeldag en cocktails drink in die son of speel heeldag toeris-toeris en eet elke aand by `n ander eksotiese restaurant. Wat hulle nie sien nie is al die snotneusies wat van Maandag tot Vrydag aan hulle juffrou se rokspante trek. Hulle sien nie dat Engels gee in Korea harde werk is nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, daardie oomblikke op die foto’s is wonderlik. Ver beter as wat die foto’s ooit sal kan vertel, maar wat tussen die foto’s gebeur is ook deel van die storie.

Die weke is lekker. Ek geniet klas gee verskriklik baie, komende van `n ex-class clown en gangstaner tydens klastyd wat enige juffrou tot vroeë aftrede kon dryf. Die weke is vol wonderlike oomblike sowel as moeilike, uitdagende dae wat jy na werk net jouself in `n kombers wil oprol en gemorskos in jou gesig gooi. Korea is vol ups en downs. Die ups is verskriklik hoog en die downs kan verskriklik laag wees. Die hele spektrum is wat hierdie ervaring  so kleurvol maak.

Om Engels te gee in Korea is beslis nie `n vakansie nie. Jy is aangestel in `n werksposisie en jy gaan werk ou maatjie. As jy dink jy gaan net kom rondlê die kant, dan moet jy maar eerder by die huis bly. Dis `n werk nes enige ander. Dis `n uiters belonende werk. Die kinders maak elke dag die moeite werd. Buiten dit, jy is in Korea met soveel ongelooflike geleenthede reg onder jou neus en uiteindelik kan jy alles bekostig!

Is dit die moeite werd?

JA, JA en nogmaals JAJAJAJAJA!!!! Dis oor en oor die moeite werd. Ek is nou amper 11 maande in Korea en hierdie 11 maande het reeds my hele lewe onherroeplik verander. Jy leer so baie van jouself, die wêreld daar buite, ander kulture, kinders, mense, tale, kulture, lande, kosse en soooooooveel meer! Jou oë gan oop! En behalwe dit, soveel deure gaan vir jou oop! Ewe skielik kan jy daardie kursus in Frankryk bekostig of daardie Griekse vakansie waarop jy nog altyd wou gaan!

As ek nie hierdie jaar hier gewerk het nie, sou daar nie `n manieeeer gewees het wat ek so sou kon toer nie. Ek kon ook hierdie jaar soveel ander goed bekostig wat ek nooit andersins sou kon nie. Bygesê, en so corny soos dit nou okal mag klink, die geld is great, maar dis die goed wat jy nie kan koop nie wat werklik hierdie ervaring besonders maak. Die mense wat jy ontmoet, die plekke wat jy sien, die kinders se onvoorwaardelike liefde en elke lewensles is van onskatbare waarde.


Nou ja, dit is dit in `n neutedop – `n kleine grondboontjie doppie. As jy enige ander vrae het, vra my gerus in die kommentaar of deur e-pos. Ek help graag.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s